Mandela-toerisme laat steeds rande inrol
2011-09-05 12:24
Kaapstad – Nelson Mandela het oor vyf dekades sy merk oor die land gelaat terwyl hy teen apartheid geveg het en vir vyf jaar terwyl hy president was.
Nou blyk dit of daar amper orals waar hy gekom het ‘n museum opgerig is.
Die 93-jarige Nobel-vredespryswenner is een van die wêreld se mees gewilde lewende ikone en sy geskiedenis is een van die land se grootste trekkragte vir toerisme.
In Johannesburg alleen kan besoekers verskeie dae deurbring deur in Madiba se voetspore te volg.
“Die toerisme-aantreklikhede wat mense die graagste wil sien word verbind met Nelson Mandela,” het Laura Vercueil, woordvoerder vir die Johannesburgese-toerismekantoor, gesê.
“Die gewildste versoek is om na Soweto te gaan om ‘n township-ervaring te hê en om Mandela se huis te sien.”
Mandela het van 1946 – 1962 in die klein huisie in Soweto gewoon en weer vir 11 dae nadat hy in 1990 uit die tronk vrygelaat is.
Sy eks-vrou Winnie het die huis in 1997 in ‘n museum omskep en die klein spasie word gereeld deur besoekers volgepak.
Sowat 15 km daarvandaan is die Apartheid-museum, wat ‘n permanente uitstalling is wat aan Mandela opgedra is.
“Dit is magneties. Mense word aangetrek deur Mandela as ‘n figuur,” het die museum se kurator, Amelia Potenza, gesê.
Volgens die museum is 20% van die besoekers buitelanders en 60% skoolkinders.
Ander toeriste-aantreklikhede in Johannesburg is die kamer wat Mandela in Alexandra gehuur het, die gebou waar hy sy regskantore in die 1950’s gehad het, die plaas waar hy weggekruip het voordat hy in 1962 in hegtenis geneem is en die tronksel waar hy daarna aangehou is.
Sommige toeroperateurs sluit sy huidige huis in Houghton ook in.
Buite Johannesburg is daar die Mandela Museum in Mthatha – wat binnekort vir ‘n ruk gaan sluit terwyl opknappingswerk gedoen word – en ‘n uitstalling in Qunu in die Oos-Kaap waar Mandela gebore is.
In Kaapstad is die tronk op Robben-eiland waar Mandela 18 van sy 27 jaar as gevangene deurgebring het as ‘n wêreld-erfenisgebied verklaar.
By die Groot Drakenstein-tronk, waar Mandela sy laaste dae in die tronk deurgebring het, is ‘n standbeeld van 3,2 m van hom opgerig.
Nog ‘n museum word beplan vir die plek waar hy op 5 Augustus 1962 naby Durban in hegtenis geneem is.
“Daar word soveel klem op Mandela geplaas want hy is ‘n wêreld-ikoon. Daar is baie min wêreld-ikone wat die oorwinning van goed oor kwaad kan verteenwoordig. Ons het dit nodig,” het Potenza van die Apartheid-museum gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP