Man op lughawe gestuit met aap in onderbroek
2012-09-10 10:15
Nieu-Delhi – Doeanebeamptes in Indië het ‘n man in hegtenis geneem nadat hy probeer het om aan boord ‘n vliegtuig by Delhi se internasionale lughawe te klim met ‘n aap in sy onderbroek, het ‘n berig Maandag gelui.
Die man, wat saam met twee ander reisigers in hegtenis geneem is, het vanaf Bangkok gereis en was met 'n vlug van Jet Airways op pad na Doebai, het die Press Trust of India berig.
Personeel by die lughawe het die 17 cm lange aap “in een van die passasiers se onderklere gevind toe hy deur sekuriteitsbeamptes deursoek is,” het die PTI gesê.
‘n Ander aap is in ‘n asblik by die Idira Gandhi Internasionale Lughawe gevind.
“Hulle het hom agtergelaat, aangesien hulle hom nie kon dra nie,” het ‘n senior sekuriteitsbeampte aan die nuusagentskap gesê.
Die passasiers, wat as Hamad Al-Dhaheri, Mohammed Al-Shamsi en Rashid Al-Shamsi geïdentifiseer is, is aan die wild- en doeanedepartement oorhandig vir verdere vrae.
Hulle is later deur die doeane-polisie in hegtenis geneem.
Beamptes probeer vasstel wat die presiese oorsprong van die ape is.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP