Man deur skerpioen op vliegtuig gesteek
2011-07-01 12:12
Kaapstad – ‘n Passasier op ‘n Alaska Airlines-vliegtuig het groot geskrik toe hy op ‘n vlug van Seattle na Anchorage deur ‘n skerpioen gesteek is.
Jeff Ellis het op 17 Junie van Seattle gevlieg toe hy iets op sy mou gevoel het. Hy het hom eers nie daaraan gesteur nie, maar toe hy later afkyk het hy ‘n skerpioen gesien, het hy aan KPTV gesê.
“Ek het my hand opgetel en gesê: 'O my genade. Dit is ‘n skerpioen',” het Ellis aan die kanaal gesê.
Hy het die skerpioen met ‘n servet opgetel en vir sy meisie, Suzanne Foster, gewys.
Sy het hom eers nie geglo nie, maar toe hy die servet uithou na haar het sy gesien hoe wikkel die stert.
“Ek het basies uit my sitplek gespring,” het sy gesê.
Die skerpioen het Ellis op sy elmboog gesteek. Twee dokters het hom aan boord die vliegtuig ondersoek en ander medici het vir hom by die Anchorage-lughawe ingewag.
Amptenare vermoed dat die skerpioen in Austin, van waar die vliegtuig oorspronklik gekom het, op die vliegtuig beland het.
– Kliek hier om ‘n video te kyk en meer te lees.
– Volg Nuus24 op Twitter