Lugdiens probeer sy reputasie herstel
2012-03-29 08:05
Pretoria – ’n Kongolese lugdiens gaan ses van sy passasierstralers vernietig om vertroue in die land se klaaglike lugvaartveiligheidsreputasie te help herstel.
Fly Congo het onlangs uit die berugte Hewa Bora-lugdiens ontstaan. Hewa Bora is weens sy swak rekord verbied om in die lugruim van Europa te vlieg.
Ná ’n ongeluk waarin 77 mense verlede jaar by Kisangani omgekom het, het die owerheid van die Demokratiese Republiek van die Kongo dié lugdiens se operateurslisensie opgeskort.
Hewa Bora en nou Fly Congo vlieg gereeld tussen Johannesburg en Kinshasa.
Die “nuwe” lugdiens se hoofbestuurder, Jean-Marc Pajot, het aan Sapa-AP gesê ses van die ou vliegtuie gaan opgekap en as skrootmetaal verkoop word in ’n poging om sy reputasie te herstel.
Vyf van die vliegtuie is Boeing 727’s en die sesde vermoedelik een van die ou Russiese vliegtuie wat gebruik is.
Die “nuwe” lugdiens gaan ’n vloot moderne vliegtuie aanskaf, het Pajot gesê.
Hewa Bora, wat “vars lug” in Swahili beteken, het in die verlede allermins ’n welkome briesie beteken vir die Kongolese bevolking, wat desperaat is om weens lang afstande tussen stede te vlieg.
Afgesien van verlede jaar se ongeluk was twee van die lugdiens se vliegtuie in 2002 in ongelukke. In 2008 is 40 mense by Goma in ’n ongeluk dood en in 2010 het nóg een van sy vliegtuie by Kinshasa neergestort.
’n Jaar later het die ergste ongeluk in sy geskiedenis, dié een by Kisangani, plaasgevind toe juis een van die Boeing 727’s in haglike weer en gietende reën neergestort het.
Volgens Pajot sal die proses om die vliegtuie op te sny binne die volgende maand begin.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld