Lê besoek af by die Hwange- nasionale park
2011-03-14 11:23
Weg!
As die Kruger se leerskares of Chobe en Moremi se buitensporige pryse jou moedeloos maak, mik Hwange toe. Dis ver, maar bekostigbaar en veilig… en hier kry jy nog báie diere.
Hoe kom ek daar?
Dis sowat 1 100 km van Pretoria af tot by die Pandamatenga-grenspos. Ry oor die Groblersbrug-grenspos na Botswana.
Afhangende van hoe ver jy wil ry, slaap oor by Marnitz Kraal-lodge (www.marnitzkraal.co.za) sowat 35 km van die grenspos af, of by Nata Lodge (www.natalodge.com) in Botswana.
Die pad van die Pandamatenga-grenspos af Robins-kamp toe verander in ’n modderbad wanneer dit reën. As jy bang is jy sit vas, ry eerder die ompad oor die Kazungula-grenspos en die Victoria-waterval.
Visums?
Suid-Afrikaners het nie ’n visum nodig nie.
Ons is nie een keer gevra oor vleis of ander produkte op pad Hwange toe nie, maar wanneer jy van Zimbabwe af terug Suid-Afrika toe ry (deur Botswana) mag jy geen vars melk, rou vleis of neutprodukte saamry nie.
Op die grens
By Martin’s Drift aan die Botswanakant betaal jy R170 vir ’n padtarief, padpermit en versekering vir toegang tot Botswana van Suid-Afrika af, asook van Zimbabwe af as jy terugkom.
By Pandamatenga (aan die Zimbabwekant) betaal jy koolstofbelasting wat wissel tussen R44 en R220, afhangende van jou enjin grootte.
Die padtoegangstarief kos R73 per voertuig, en derdepartyversekering kos R220 vir jou eie voertuig en R366 vir ’n huurmotor.
Watse papiere vat ek saam?
’n Afskrif van jou voertuig se registrasiesertifikaat en jou motorvoertuiglisensie.
Vir ’n sleepwa benodig jy registrasiedokumente sowel as ’n toestemmingsbrief, indien nodig.
Plakkers?
Twee reghoekige silwer weerkaatsplakkers voor op die voertuig en twee reghoekige rooi weerkaatsplakkers agter op die voertuig, asook ’n ZA-plakker.
Vir ’n sleepwa kort jy ’n rooi “T”-plakker op die regter-agterkant en ’n wit “T”-plakker op die voorkant.
Klik hier vir meer oor die Hwange- nasionale park