Lang pad voor vir Qantas
2011-11-01 14:16
Kaapstad – Qantas se dienste het ná dae se chaos na normaal teruggekeer, maar dié ikoniese lugredery sal nou passasiers se harte ook moet terugwen.
Die lugredery het in ‘n verklaring gesê dat alle passasiers wat deur die stakings geraak is, uiteindelik op vlugte gekom het.
“Qantas is opreg jammer vir die impak wat die nywerheidsaksie in die afgelope paar maande op kliënte gehad het en sien uit na ‘n spoedige herstel en ‘n tydperk van stabiliteit,” het die verklaring gesê.
Qantas het laat Maandag weer met vlugte begin ná ‘n bitter arbeidsdispuut daartoe gelei het dat alle vlugte vir 46 uur gestaak is.
Sowat 70 000 passasiers in 27 stede oor die wêreld heen is deur die aksie geraak en Australië se ekonomie is in die gedrang gebring.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP