Kulula kap Mango oor Lanseria-vlugte
2011-05-09 11:20
Johannesburg – Ná die aankondiging dat Mango van 1 Junie vlugte van Lanseria na Kaapstad sal loods, het die laekoste lugredery Kulula sy kommer uitgespreek dat die lughawe nie die nodige infrastruktuur het om die groter getalle passasiers, veral tydens piektyd, te hanteer nie.
“Die betowering van Lanseria, wat ‘n klein lughawe is, is dat dit passasiers meer gerief bied. Hierdie voordeel kan verlore gaan as 500 mense almal op dieselfde tyd opdaag vir ‘n vlug, het Gidon Novick, uitvoerende hoof van Comair, gesê.
Dit sal uiteindelik kliëntediens en tevredenheid beïnvloed en dit is iets wat nie afgeskeep moet word nie, het hy gesê.
“Die lughawe kort ook ‘n nuwe aanloopbaan, aangesien die huidige aanloopbaan nie vir groter vliegtuie gebou is nie. Die lughawe het gesê dit sal gebeur, maar dit moet so gou moontlik gedoen word. As Lanseria ‘n groot lughawe wil wees, moet dit die regte infrastruktuur hê,” het Novick gesê.
Novick het bygevoeg dat die sukses van die Gautrein se lughawe-roete daartoe gelei het dat baie van die lugredery se kliënte terugkeer na die OR Tambo Internasionale-lughawe.
“Vir daardie besigheidsreisigers wat in Sandton werk is die Gautrein meer gerieflik en ons het ‘n skuif ervaar terug na OR Tambo.”
Lees meer by Tourism Update
Volg Nuus24 op Twitter