Klimaatsverandering kwel Australië
2009-08-17 13:20
Adelaide, Australië – Klimaatsverandering is die grootste bedreiging vir die Groot Koraalrif in Australië, het owerhede onlangs bevind.
Dit kom ná ‘n verslag bevind het dat die veranderende klimaat ‘n negatiewe effek het op ander fauna en flora eie aan dié land.
Die onafhanklike verslag wat deur die regering aangevra is, het bevind dat inheemse plante weens hoë seetemperature al hoe minder voortplant, die populasie dwergmuise kwesbaar is tydens droogtes en eukaliptusse in Tasmanië vrek weens die lae reënval.
Dié bevindings is kommerwekkend omdat Australië een van die wêreld se mees biologies diverse lande is.
Sowat 80% van dié land se plante word nêrens anders gevind nie.
“Die verslag beaam wat ons reeds weet. Ons voëls en hul natuurlike habitat word deur klimaatsverandering bedreig en die uitwissing gaan nie stop voor ons nie iets daaraan doen nie, het Peter Garrett, minister van omgewingsake, by die opening van ‘n ekologie-konferensie gesê.
Die Groot Koraalrif se mariene park-hoof, Russell Reichelt, het gesê ‘n nuwe plan word binnekort bekendgestel om bewusmaking te skep oor die impak van weer en mense op die mariene habitat.
Sapa-AP