Kilimandjaro – dit is goed of baie sleg
2010-09-01 08:49
Maryna Loubser van Kleinmond
Na aanleiding van Veena Sukha se navraag: Ek het die Machame-roete op Kilimandjaro in 2004 gestap en kan alles beaam wat Pieter Oosthuizen (Buite, 17 Augustus) geskryf het.
Dit was vir my as gesoute stapper ’n ontnugtering om te sien hoe besoedel en vertrap die mooie berg al daardie tyd was.
Nou kan ek my nie voorstel hoe dit moet lyk nie.
So ver as wat ’n mens vorentoe en agtertoe kon sien, was daar mense en rondom die kampe moes ’n mens versigtig trap tussen die menslike landmyne.
Dit was vir my duidelik dat baie mense wat net wil spog dat hulle die hoogste piek in Afrika geklim het, nog nooit van bergstap-etiket gehoor het nie.

My ervaring met die berg Kenia, wat ek Januarie 2010 geklim het, was heeltemal anders.
Dis nou wel op 5 199 m die naashoogste piek in Afrika, maar juis daarom nog ’n ongerepte bergklimervaring.
Dis ’n skilderagtige berg met mere, valleie, verskillende bergpieke, gletsers en watervalle en pragtige plantegroei.
Dit is egter ook ’n uitdaging en dis jammer, of miskien beter so, dat so min mense besef hoe ’n mooi berg dit is.
Dus, as jy net die hoogste berg in Afrika op jou lysie wil aftik, klim Kilimandjaro.
As jy egter ’n asemrowende (letterlik en figuurlik) ervaring wil beleef sonder dat jy deur massas vertrap word, gaan klim die berg Kenia.
Erika van Pretoria, skryf:
Ek is een van die mense wat nogal ontstig was ná Buite se Kili-storie – veral omdat ons dieselfde tyd op die berg was en ’n magiese ervaring gehad het.
Ons het Umbwe gestap, was twee dae alleen op die roete, en het uitstekende operateurs met donkiejare se ondervinding gehad wat waarskynlik ’n mens se ervaring naatloos gemaklik en genoeglik gemaak het.
Ek is trouens só begeesterd dat ek nou Aconcagua in Argentinië gaan aanpak.
- Die Burger