Kaapstad wen gesogte ontwerp-titel
2011-10-26 08:59
Kaapstad – Kaapstad is aangewys as die World Design Capital 2014 en het twee ander stede op die kortlys, Bilbao in Spanje en Dublin in Ierland, geklop, is Woensdag bekendgemaak.
Sowat 200 belanghebbendes het Woensdagoggend in Kaapstad vir die aankondiging byeengekom, wat regstreeks vanuit Taiwan uitgesaai is.
Die titel word elke twee jaar aangewys deur die Internasionale Raad van Verenigings vir Nywerheidsontwerpers (ICSID) om wêreldwye bewustheid te kweek van stede wat ontwerp gebruik vir sosiale, ekonomiese en kulturele ontwikkeling en verandering.
Die titel word twee jaar vooruit aangekondig om die wenstad tyd te gee om ‘n jaar lange program te beplan en te bemark wat daarop gefokus is om internasionale aandag te fokus op die stad se kreatiewe sektor.
Daar was glo ‘n groot applous en opwinding toe die aankondiging gemaak is en een van die beoordelaars het gesê dit was ‘n moeilik besluit om te maak.
Guy Landie, ‘n lid van die komitee, het gesê dit was nie ‘n oorwinning vir Kaapstad nie, maar ‘n oorwinning vir Suid-Afrika en Afrika as ‘n kontinent.
Hy het bygevoeg dat die toekenning nie net daarop gefokus is om alle dinge wat esteties mooi is te vier nie, maar dit gaan ook daaroor om die ekonomie te bevorder en werksgeleenthede te skep.
– Eyewitness News, Nuus24
– Volg Nuus24 op Twitter