Kaapstad gaan voluit vir Wêreld-toerismedag
2011-08-17 09:03
Kaapstad – Wêreld-toerismedag word vanjaar op 27 September herdenk en word deur die Verenigde Nasies bevorder as ‘n dag om toerisme sowel as sosiale-, ekonomiese- en omgewingsvoordele te vier.
Vanjaar se tema fokus dus daarop om kulture met mekaar te verbind, ‘n tema wat ‘n weerspieëling is van Kaapstad se ryk erfenis en kulturele diversiteit.
“Die boodskap vir Wêreld-toerismedag is dat, te danke aan toerisme, miljoene mense van verskillende kulture oor die wêreld saamgebring word,” hetTaleb Rifai, sekretaris-gneraal van die VN se wêreldorganisasie vir toerisme (UNWTO), gesê.
“Hierdie interaksie tussen mense van verskillende agtergronde verteenwoordig ‘n geleentheid om verdraagsaamheid en respek vir mekaar te bevorder.”
Grant Pascoe, burgemeesterskomiteelid vir toerisme en bemarking van die stadsraad, het bygevoeg: “Kulturele erfenis is ons wortels as ‘n stad; dit is die gees van ons mense; iets wat, sodra ons dit verstaan en beskerm, ‘n integrale deel van ons identiteit as Kapenaars word.
“Ons moet toerisme-ontwikkeling erken as ‘n sleutel-aspek van ekonomiese vooruitgang en die bewaring van ons erfenis balanseer met die behoefte vir groei in die stad.”
Kaapstad staan op die rand van twee baie belangrike aankondigings.
In Oktober sal bekend gemaak word of die stad aangewys is as die World Design Capital vir 2014 en op 11 November sal dit wêreldwyd aangekondig word of Tafelberg een van die nuwe sewe natuurwonders is.
Die My Cape Town-veldtog wat in September plaasvind sal fokus op alles wat Kaapstad het om te bied, met pryse om te wen en ‘n verskeidenheid van spesiale aanbiedinge en afslag op talle van die stad se aantreklikhede en aktiwiteite.
– Nuus24
– Volg Nuus24 op Twitter