Kaap gevaarlikste stad buite Amerikas
2012-01-17 08:01
Johannesburg. – Kaapstad is die 34ste gevaarlikste plek ter wêreld en Johannesburg die 50ste.
Durban en Port Elizabeth is ook gevaarliker as die Goudstad, blyk uit ’n verslag wat pas deur die Mexikaanse navorsingsgroep Seguridad, Justicia y Paz (Veiligheid, geregtigheid en vrede) uitgereik is.
Dié groep stel jaarliks ’n lys van die 50 gevaarlikste stede in die wêreld bekend.
Stede word gerangskik na aanleiding van hoeveel moorde per 100 000 inwoners gepleeg is.
Die navorsers kyk net na stede met meer as 300 000 inwoners waar statistieke oor moordsyfers beskikbaar is.
Johannesburg is laaste op die lys met 30,5 moorde per 100 000 inwoners.
Met 30,54 moorde per 100 000 inwoners het Durban net-net die 49ste plek gehaal. Die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit (Port Elizabeth) is met 36 moorde per 100 000 inwoners 41ste, terwyl Kaapstad, met 46 moorde per 100 000 inwoners, 34ste op die lys is.
Die stede wat die eerste 33 plekke op die lys beklee, is almal in Noord- en Suid-Amerika.
Kaapstad is dus die gevaarlikste stad in die wêreld buite die Amerikas, luidens die verslag.
San Pedro Sula in Honduras is die gevaarlikste stad ter wêreld, met 159 moorde per 100 000 inwoners.
Juárez in Mexiko is tweede op die lys en Maceió in Brasilië derde.
Daar is 14 Brasiliaanse stede op die lys en 12 Mexikaanse stede.
Amerika het ook vier stede op die lys – New Orleans (58 moorde per 100 000 inwoners), Detroit (48 per 100 000), St. Louis (35 per 100 000) en Baltimore (31 per 100 000) – wat onderskeidelik die 21ste, 30ste, 43ste en 48ste plek op die lys gehaal het.
Volgens Seguridad, Justicia y Paz kan die eintlike moordsyfers in lande soos Mexiko selfs hoër wees.
Die organisasie meen plaaslike regerings smeer sommige moorde daar toe om hul lande se moordsyfers laer te laat lyk as wat dit werklik is.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld