KZN die gewildste provinsie
2009-12-08 16:58
Johannesburg – KwaZulu-Natal is die provinsie wat die meeste gedurende 2008 besoek is.
Die Suid-Afrikaanse plaaslike toerismepeiling, wat Maandag bekend gemaak is, het getoon dat KwaZulu-Natal sowat 20.6% van alle plaaslike toeriste ontvang het.
Dié provinsie het ook die meeste oornagbesoekers gehad met 22.7%, terwyl Gauteng die provinsie is wat die meeste dagbesoekers ontvang met 24.4%.
Die grootste redes vir plaaslike dag- en oornagbesoeke is kuier by vriende en familie. Dit verwys na besoeke buite ‘n persoon se allerdaagse omgewing waartydens een nag of meer weg van die huis af spandeer is.
Sowat 7,5 miljoen besoeke is vir hierdie rede in 2008 deur Suid-Afrikaners afgelê, waarvan 2,3 miljoen dagbesoeke was en 5,2 miljoen oornagbesoeke was.
Vir plaaslike toerisme word taxi’s en motors meestal as vervoermiddel gebruik en is uiteet by restaurante ‘n baie gewilde aktiwiteit.
“Sowat 1,5 miljoen mense het in 2008 by restaurante en kafees tydens dagbesoeke geëet terwyl 1,6 miljoen mense tydens oornagbesoeke uitgeëet het,” het Statistiek Suid-Afrika gesê.
Die ouderdomsgroep wat mees geneig is om reise af te lê, is mense tussen 25 en 29.
- Sapa