Japan gee 10 000 gratis vliegkaartjies weg
2011-10-10 21:47
Kaapstad – Japan sal aan 10 000 buitelanders gratis vliegkaartjies gee om die land volgende jaar te besoek in ‘n poging om die toerismebedryf, wat groot skade gely het as gevolg van die land se kernkrisis, ‘n hupstoot te gee.
Japan se Toerisme-agentskap vra diegene wat ‘n besoek na Japan beplan om aanlyn aansoek te doen vir gratis vliegkaartjies.
Daarin moet gesê word watse dele van die land hulle graag sal wil besoek, het die Yomiuri Shimbun-koerant berig.
Die agentskap sal die suksesvolle kandidate kies en hulle sal gevra word om ‘n verslag oor hul vakansie in te dien, wat op die internet gepubliseer sal word.
Toerisme-beamptes hoop dat positiewe berigte van reisigers oor hul ervarings in die land sal help om internasionale vrese te laat afneem, het die koerant berig.
Die program sal in April 2012 begin, afhangend van goedkeuring van die regering se begroting. Reisigers sal die res van die uitgawes, soos akkommodasie, vervoer en kos, moet dek.
Die hoeveelheid buitelandse toeriste na Japan het met meer as 50% gedaal tydens die drie maande ná die aardbewing op 11 Maart en die gevolglike tsoenami wat tot ‘n kernkrisis by die Fukushima Daiichi-kernaanleg gelei het.
Die regering het gesê Japan is veilig, behalwe vir die direkte omtrek by die kernaanleg waar werkers nog probeer om die fasiliteit tot ‘n stilstand te bring.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP