Hotelle verwag beter vakansieseisoen
2011-11-28 10:52
Kaapstad – Die gasvryheidsbedryf verwag ‘n “goeie” somervakansie vir Kaapstad nadat verskeie hotelle en restaurante vanjaar hul deure gesluit het.
Die gasvryheidsorganisasie Fedhasa Wes-Kaap het Sondag sy jaarlikse vergadering gehad en die resultate van sy prys-opname bekendgemaak, waarin die stad se hotelpryse met hotelpryse in ander lande vergelyk word.
Meer as 90% van Fedhasa Wes-Kaap se lede verwag dat besettingsvlakke hierdie seisoen goed sal wees.
Dirk Elzinga, die voorsitter van Fedhasa Wes-Kaap, het gesê die bedryf het deur ‘n “baie moeilike jaar” gekom.
Vier hotelle en 10 restaurante het die afgelope jaar gesluit en besettingsvlakke in die winter was die slegste in jare. Nietemin is die voorspelling vir die komende vakansieseisoen meer rooskleurig.
“Die verwagtinge is nie so sleg nie. Ons het meer realisties geword, maar ons verwag goeie besetting.”
Hotelle verwag ‘n besettingsvlak van tussen 60% en 80% vir die vakansieseisoen.
– Lees hier meer.
– Volg Nuus24 op Twitter