Moenie kommer oor hotelle in wildtuin
2011-08-08 09:10
Skuzuza - Besoekers aan die Krugerwildtuin en natuurliefhebbers het niks te vrees oor die twee hotelle wat by die Skukuza- en Malelane-ruskampe beplan word nie.
Só het dr. David Mabunda, uitvoerende hoof van Sanparke, die naweek gesê op die terrein waar die Malelane Safari Lodge-hotel in die wildtuin beplan word.
“As enigiemand met ’n beter voorstel kan kom om op ’n volhoubare manier geld vir Sanparke se voortgesette bewaringsaksies te genereer, sal ons graag daarna kyk. Intussen wil ons die publiek verseker die hotelle hou geen bedreiging vir die biodiversiteit van die wildtuin in nie.”
Volgens hom word moeite gedoen om te verseker die hotelle is so omgewingsvriendelik as moontlik, dat hulle buite sensitiewe biodiversiteitsgebiede geleë is en ’n geringe visuele impak sal hê.
Rejoice Mabudafhasi, adjunkminister van omgewingsake, het gesê die regering steun die hotelle en vertrou Sanparke dra die wildtuin se beste belange op die hart.
’n Hewige debat het vroeër oor die beplande hotelle ontstaan – deels omdat Sanparke glo versuim het om die hotelle op ’n openbare forum te bespreek voordat ’n tender vir die Malelane-hotel aan Radisson Blu toegeken is.
Mabunda het gesê geen wet verplig Sanparke om al sy besluite met die publiek te deel nie.
Dit sou boonop onverskillig wees om vroeër, terwyl die hotelle in ’n konsepfase was, ’n openbare debat te ontketen. Dis ’n groot uitdaging om mense met ’n “verouderde filosofie oor natuurbewaring” te oortuig van die waarde en noodsaaklikheid van volhoubare ontwikkeling in parke.
“Natuurbewaring sonder mense en toerisme is wêreldwyd lankal nie meer ’n werklikheid nie.”
Mabunda het gesê dis noodsaaklik om die hotelle te bou om ’n nuwe generasie wildtuinbesoekers te lok en sukkelende nasionale parke te subsidieer.
Die Malelane-hotelprojek is nog onderhewig aan ’n omgewingsimpakproses. Die hotel sal die gemeenskappe om die wildtuin, onder wie talle grondeise bínne die wildtuin het, bevoordeel.
“Dié gemeenskappe sal ’n aandeel in die hotel hê en 20% van die opbrengste sal in ’n gemeenskaps-trust betaal word.
“Hoewel dit nie vergoeding vir die grondeise is nie, is dit ’n manier om die gemeenskappe te help,” het Mabunda gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger