Honderde passasiers gestrand op Parys-lughawe
2011-07-25 08:52
Parys – Meer as 300 passasiers van XL Airways wat op pad was na New York was die naweek op Parys se Roissy Internasionale Lughawe gestrand, het die lugredery Sondag gesê.
Verskeie vliegtuie wat van die VSA geland het “kon nie weer [van Frankryk] opstyg nie as gevolg van storms wat die struktuur van die vliegtuie tydens die vlug beskadig het”, het Bernard-Xavier Spokojny, direkteur van bemarking en kommunikasie van die Franse lugredery, aan AFP gesê.
“Ons het kos versprei en aan almal akkommodasie in lughawe-hotelle gebied. Sommige van die passasiers wat in die Parys-omgewing woon het verkies om huis toe te gaan. Sowat 30 ander het besluit om in die lughawe te bly,” het Spokojny gesê.
Sommige passasiers wat sedert Saterdagaand gestrand was, sou Sondagaand met ‘n ander lugredery na New York vlieg.
Humeure het byna oorgekook toe gefrustreerde passasiers probeer het om passasiers te verhoed om op ‘n ander XL Airways-vlug plek te bespreek, maar “sekuriteitsbeamptes het hulle kalmeer,” het Spokojny gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP