Hollywood-teken lok te veel toeriste
2011-09-22 11:25
VSA – Dit is een van die wêreld se gewildste tekens, maar vir die plaaslike inwoners het die reuse-Hollywood-teken op die heuwel wat oor Los Angeles kyk ‘n bron van frustrasie begin word.
Reisigers kom al vir jare om hul foto by die groot teken te laat neem, maar met die ontwikkeling van satelliet-navigasie en Google Earth het hulle begin om die Hollywood Hills-woonbuurt in groot massas binne te stroom.
Inwoners kla dat toeriste rommel strooi en sigaretstompies agterlaat en dat hulle verkeersknope veroorsaak in die nou, kronkelende straatjies wat na die teken lei.
“Waarskuwing: Geen-toeriste-sone. Alle toeriste, verlaat die gebied,” lui een teken wat duidelik tuisgemaak is naby die laaste opdraande wat na die 13 m hoë letters aan die bopunt van Mount Lee lei.
Die gewilde teken het begin as ‘n advertensiebord vir eiendom in Hollywoodland. Die laaste vier letters het met tyd afgeval en het gevolglik ‘n ikoon in die filmbedryf geword.
Dit kan myle ver in Los Angeles gesien word.
Die naaste wat baie toeriste aan dit kom is onder op Hollywood Boulevard, ‘n paar kilometer daarvan af.
Nietemin maak GPS-tegnologie dit deesdae baie makliker vir besoekers om ‘n roete by die berg op te vind.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP