Hengelkompetisie lewer vangs van 46 marlyne
2012-02-18 10:00
Struisbaai – Alle verwagtinge is heeltemal oortref toe 46 marlyne vandeesweek in Struisbaai se Two Ocean-hengelkompetisie gevang is. Nog nege is buite die kompetisie aan wal gebring.
“Dit is absoluut fantasties. Die beste nuus is dat almal weer vrygelaat en net een van die 46 in die kompetisie dood is,” het dr. Gawie Bruwer, woordvoerder van die kompetisie, gesê.
Daar is deur van die deelnemers bespiegel dat die groot vangs ’n wêreldrekord kan wees. Die nuus het soos ’n veldbrand versprei en daar is reeds tekens van ’n stormloop na Struisbaai.
Die ervare Stephen Griffiths van Melkbosstrand was die enigste deelnemer wat met ’n dooie marlyn geëindig het.
Griffiths het in die water geduik en die marlyn probeer help om te herstel. Ná byna ’n uur was dit egter duidelik dat die vis nie sal oorleef nie.
Verlede jaar is daar 17 marlyne in dieselfde kompetisie gevang en was die organiseerders reeds gaande oor die resultate. Daar is verwag dat daar moeilik hierop verbeter sal word.
“Ons het 28 bote in die kompetisie gehad en 21 het vis gekry. Daar is op drie plekke gekonsentreer,” het Bruwer gesê.
Bruwer het daarop gewys dat net een swart marlyn gevang is. Die res was almal gestreep. Drie marlyne is op die Twaalfmylbank gevang en agt op die Alphard-bank.
“Die meeste marlyne is tussen 22 en 38 seemyl van die kus gevang. Daar was baie kos in die water en die toestande was goed,” het Bruwer gesê.
Een van Struisbaai se voorste hengelkenners, Stefano Schoonees, het gesê daar was dadelik ’n stormloop vir skibote wat hy verhuur. “Ek is reeds vol bespreek vir die volgende twee weke.”
Van die nege marlyne wat buite die kompetisie gevang is, is twee Donderdag by die hawe opgehang en vertoon. Dit is iets waarteen Bruwer baie gekant is.
Die nuus van die reuse-marlynvangs kan ’n geweldige inspuiting vir toerisme beteken.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger