Hele Afrika deur met net twee lekbande
2011-05-31 10:00
Die Weskusvrou Marelie van der Merwe beskou haarself as baie gelukkig nadat sy net twee lekbande gehad het in die Tour d’Afrique.
Dié fietstoer van 12 000 km het op 15 Januarie in Kaïro begin en op 14 Mei triomfantelik in Kaapstad geëindig.
Dit was die grootste ontvangs wat die ryers sedert 2003 in die jaarlikse fietstoer gekry het. Die Moederstad het ’n rooi tapyt uitgerol terwyl baie plaaslike ryers op ’n nuwe fietspad saam na die middestad getrap het.
Van Egipte het die deelnemers deur die Soedan, Ethiopië, Kenia, Tanzanië, Malawi, Zambië, Botswana en Namibië tot aan die Weskus van Suid-Afrika getrap.
“Ek het sommer baie gou ’n klomp nuwe broers en susters op ons toer gehad,” het Marelie gesê.
Die groep van 100 ryers het gemiddeld 123 km per dag afgelê. Die afstande het gewissel van 80 tot 180 km per dag – na gelang van hoe goed die paaie was. Genadiglik was daar ook 23 rusdae.
Vir Marelie was die Soedan baie spesiaal, en sy sê die meeste ander ryers het ook so gevoel. Tanzanië en Namibië was die ander twee lande waarvan almal baie gehou het.
Maar hoeveel het hierdie lang toer van vier maande haar gekos? “Dit het my meer as R100 000 uit die sak gejaag. Dit sluit die vliegkaartjies en fietsonderdele in,” het sy gesê.
Dit het egter gevoel of die tyd gevlieg het. Alles was vir haar net te gou verby.
“Ek was baie gelukkig en het net twee lekbande gehad. Daar was van die ander ryers wat vyftig keer moes stop weens lekbande,” het Marelie gesê.
Haar eerste terugslag was toe ’n ryer voor haar neergeslaan het terwyl hulle oor ’n treinspoor in die Soedan gery het. “Ek het oor die ryer geval, en een van my bande het gebars.”
In Kenia het sy van die pad gery, en ’n lang pendoring het deur een van haar bande gesteek, wat sy toe moes herstel.
“Ek het met baie goeie bande gery. Hulle het ook aan die binnekant spesiale lining gehad vir ekstra beskerming,” het sy verduidelik.
Dan was daar groot sports met ’n olifant nadat hulle van Zambië by Kazungula met die veerboot na Botswana oor is. ’n Olifant het skielik uit die bosse gestorm. “Ek het vinnig omgedraai, en dit was die vinnigste wat ek op die hele toer gery het.”
Van Botswana is na Windhoek en daarna suidwaarts deur ’n baie nat Namibië getrap.
Kort voor die einde van die toer het Marelie ook haar ou vriende in Langebaan gaan groet.
- Beeld