Guguletu maak reg vir sy eie wynfees
2011-05-24 07:03
Kaapstad. – Die Moederstad maak hom reg vir ’n groot makietie wanneer die eerste Guguletu-wynfees op 27 en 28 Mei gehou word.
Dié fees, wat op die dak van die Gugulethu-winkelsentrum gehou sal word, beloof om nie net die Wes-Kaap se beste wyne ten toon te stel nie, maar ook nuwe markte namens wynmakers in die provinsie te ontdek.
“Dis belangrik om te besef die swart middelklas in Kaapstad is nog nie juis deur die wynbedryf ontgin nie,” het Lungile Mbalo, woordvoerder en medestigter van die fees, verduidelik. “Ons gaan dit verander.”
Volgens Ray Edwards van Tops-drankwinkels is inwoners van Guguletu en omliggende gebiede reeds blootgestel aan goeie wyn, maar is die fees ’n unieke geleentheid vir nuuskieriges om meer te ontdek.
“Daar is baie mense in die Kaap wat daarin belang stel, maar wat nog nie ’n persoonlike uitnodiging ontvang het om ’n redelik intimiderende bedryf te leer ken nie.”
Mzoli Ngcawuzele, sakeman en bekend vir sy kuierplek Mzoli’s Place, is ook mede-stigter van die fees. Hy sê: “Dis tyd vir ons almal om na aksie oor te gaan vir Guguletu. Dit is ’n digbevolkte township met baie beeldskone, kunstige en passievolle mense en families wat ’n gehalteleefstyl waardeer. Goeie wynhandelsmerke wil hulself deel maak hiervan.”
Organiseerders hoop om tot 2 000 besoekers oor die twee dae lange fees te lok.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger