Ground Zero lok miljoene besoekers
2011-08-12 11:09
New York – Uit die as van die 9/11-tragedie het ‘n lewendige buurt ontstaan, gepak met nuwe restaurante en hotelle, winkels en plekke om te kuier.
Dít in ‘n omgewing wat baie gevrees het nooit weer lewe sal hê nie.
‘n Dekade ná die aanval op die World Trade Center trek die onderste deel van Manhattan na beraming sowat nege miljoen van die stad se bykans 50 miljoen besoekers elke jaar.
Die buurt het nou 18 hotelle met meer as 4 000 kamers, in vergelyking met ses hotelle en 2 300 kamers op 11 September 2001.
Vir baie toeriste is dit ‘n onmisbare uitstappie, saam met Times Square en die Statue of Liberty.
“Dit is ‘n 24/7-buurt,” het George Fertitta, uitvoerende hoof van NYC & Company, die stad se bemarking- en toerisme-agentskap, gesê.
“Dit is ‘n wonderlike oomblik vir dié deel van Manhattan.”
Alhoewel talle mense kom vir die inkopies en restaurante, bly die fokus steeds om die tragedie van 11 September te herdenk.
– Volg Nuus24 op Twitter