Google skep nuwe soekfunksie vir vlugte
2011-09-14 11:00
Kaapstad – Die internetreus Google het Dinsdag ‘n soekblad vir vlugte bekendgestel wat ‘n potensiële mededinger vir aanlyn-reisdienste kan wees.
Flight Search is die eerste reisproduk van Google sedert sy $700 miljoen werwing van ITA Software vroeër vanjaar.
“Ons ingenieurspanne werk al sedertdien om nuwe reis-programme te bou wat vinniger, meer buigbare en meer bruikbare uitslae vir aanlyn-reissoektogte lewer,” het Google in ‘n blog-inskrywing gesê.
‘n “Flights”-skakel sal aan die linkerkant van die skerm verskyn wanneer ‘n gebruiker vir vluginligting op Google soek. Flight Search kan ook direk gebruik word deur te gaan na google.com/flights.
Die nuwe funksie bied tans nog net vlugte vir ‘n beperkte hoeveelheid Amerikaanse stede en wys slegs uitslae vir tweerigting ekonomiese-klas vlugte.
Google het gesê hy sal later meer stede en opsies by die funksie voeg.
Flight Search toon opsies vir ‘n gemerkte bestemming, wat volgens vertrektyd en datum, lughawe, prys of lugredery aangeteken word.
Google, wat die Amerikaanse departement van justisie se toestemming moes kry om ITA te koop, sê hierdie verskeidenheid van vlugresultate “word nie beïnvloed deur enige finansiële verhoudings nie.”
“Lugrederye bepaal hoe hul vlugte bemark word en net soos met ander vlug-soektogte (op die internet) word ons bespreking-skakels slegs deurgesit na lugrederye se webwerwe,” het Google gesê.
Nietemin is verskeie aanlyn reiswebwerwe ongelukkig hiermee.
Expedia, Kayak en Travelocity het onder andere ’n beroep gedoen dat die ooreenkoms tussen Google en ITA geblok word. Hulle is van mening dat dit Google te veel beheer gee oor die aanlyn-reismark en gevolglik sal dit tot hoër pryse lei.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP