Giftige chemikalieë dalk oorsaak van toeriste-sterftes
2011-08-16 17:00
Bangkok – ‘n Ondersoek na die vreemde sterftes van vyf buitelandse toeriste in hotelle in die noorde van Thailand dui op ‘n verband met giftige chemiese blootstelling.
Nietemin kon daar steeds nie vasgestel word wat presies hul dood veroorsaak het nie, het ‘n regeringswebwerf Dinsdag gesê.
Die slagoffers was toeriste van Nieu-Seeland, Frankryk, die VSA en Brittanje wat by drie verskillende hotelle in die gewilde noordelike Thai stad Chiang Mai gebly het.
‘n Thaise toergids is ook dood en drie ander toeriste het siek geword, maar weer herstel.
Niemand is verantwoordelik gehou vir die sterftes, wat in Januarie en Februarie plaasgevind het, nie.
“Die spesifieke oorsake van die siektes en sterftes in hierdie gevalle kan nie geïdentifiseer word nie en daar kan ook nie vasgestel word presies hoeveel mense daaraan blootgestel is nie,” het die departement van siektebeheer Dinsdag op sy webwerf gesê.
Die oorsake was die duidelikste in ‘n 23-jarige Nieu-Seelandse vrou wat op 6 Februarie dood is, sowel as haar twee mede-reisigers wat siek geword, maar weer herstel het en ‘n 47-jarige Thaise vrou wat op 3 Februarie dood is.
“Die vier is waarskynlik aan dieselfde oorsaak dood, waarskynlik die blootstelling aan ‘n giftige chemikalieë, insekdoder of gas”, het die verslag gelui.
Die dood van ‘n Britse paartjie in hul 70’s, wie se lyke op 19 Februarie in hul hotelkamer gevind is, kan “moontlik verband hou” met daardie sterftes, “aangesien hulle in dieselfde hotel gewoon het”, het die verslag gesê.
Volgens die webwerf neem amptenare stappe om besoekers se risiko te verminder, maar geen verdere besonderhede is gegee nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AP