Dodelike virus skrik toeriste nie af
2012-09-04 12:56
Los Angeles – Die dodelike virus wat besoekers aan die Yosemite Nasionale Park besmet het, versprei nie maklik nie en ten spyte van twee onlangse sterftes sal die park nie gesluit word nie, het ‘n woordvoerder Maandag gesê.
Minstens ses gevalle van mense wat aan die hantavirus pulmonêre-sindroom (HPS) ly is reeds bevestig. HPS is ‘n seldsame, maar ernstige siekte wat nie behandel kan word nie en wat een uit drie slagoffers se lewens eis.
Die siekte word normaalweg veroorsaak deur kontak met die urine, feses of speeksel van besmette knaagdiere.
“Solank individue in ‘n gebied met goeie ventilasie bly” en op die uitkyk is vir tekens van muise in die omgewing “behoort hulle niks oor te kom nie,” het Kari Cobb, woordvoerder vir die park, gesê.
“Jy kan nie die hantavirus opdoen as jy net in die park rondloop nie,” het sy beklemtoon en het bygevoeg dat besoekers nie ‘n masker hoef te dra om besmetting te voorkom nie.
Cobbs sê hoewel sommige besoekers hul bespreking vir die langnaweek gekanselleer het, is die gapings gevul en die park is oor die algemeen net so besig soos gewoonlik.
Sy het nie getalle gegee nie, maar sowat 7 500 toeriste besoek Yosemite in 'n gemiddelde naweek.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP