Gewelddadige ape saai amok onder toeriste
2011-06-06 10:25
‘n Trop groot ape met “skerp tande” is by die Phnom Penh-tempel in Kambodja gevang ná talle aanvalle op toeriste, het ‘n amptenaar van die dieretuin Vrydag gesê.
“Amptenare van Phnom Penh het ons gevra om die gewelddadige ape van die tempel te verwyder. Volgens die wagte is baie besoekers al deur groot ape gebyt,” het Nhek Rattanak Pich, die direkteur van die Phnom Tamao-dieretuin en reddingsentrum, aan AFP gesê.
Veeartse van die dieretuin het verlede week 13 makaak-ape met kalmeermiddels ingespuit en beplan om hierdie week voort te gaan met die projek.
Daar is sowat 200 redelike mak ape wat om die tempel rondhang en soms veroorsaak hulle chaos wanneer hulle na nabygeleë huise en hotelle gaan waar hulle dakteëls afgooi, wasgoed vernietig en enige items wat rondlê gryp.
Polisie in Kambodja het die makake in die verlede as “bende”-ape beskryf ná ‘n onsuksesvolle poging om hulle met eiers te vang wat met slaappille gemeng was.
‘n Gewelddadige 20-kilogram aap is in 2008 by die tempel doodgeskiet nadat hy besoekers aangeval het.
Volgens Pich sal daar eers bloedmonsters van die ape geneem en getoets word vir siektes voordat die diere óf na die dieretuin gestuur sal word óf in afgeleë woude naby die Tonle Sap-meer, ver van die hoofstad, vrygelaat sal word.
Volg Nuus24 op Twitter
- AFP