Geen vet-belasting vir Aus-lugrederye
2012-01-12 13:25
Kaapstad – ‘n Beroep dat oorgewig passasiers ekstra betaal om op Australiese lugrederye te vlieg is Donderdag deur die groot lugrederye verwerp.
Tony Webber, die voormalige hoofekonoom van Qantas, was van mening dat oorgewig passasiers meer moet betaal om op te maak vir die ekstra brandstofkostes wat lugrederye aangaan.
“Wanneer passasiers meer weeg, of wanneer daar ekstra gewig op die vliegtuig is, word meer brandstof gebruik en dus is brandstofkoste hoër,” het hy aan ABC –radio gesê.
“Lugrederye is tans baie gefokus daarop om hul brandstofkoste te verlaag, aangesien die prys van brandstof so hoog is op die oomblik.
“Op ‘n vlug van Sydney na Londen se Heathrow Lughawe via Singapoer, kyk jy na ‘n ekstra koste van $5 tot $10 (Ongeveer R80).”
Hy het Indonesië as ‘n voorbeeld gebruik, waar amptenare soms die bagasie en die passasier saam weeg.
“Jy sal die totale gewig van die bagasie en die persoon moet uitwerk en dan moet jy ‘n kritiese gewig hê, byvoorbeeld 90 kg of 100 kg, waarbo jy ‘n ekstra koste sal voeg,” het hy gesê.
Nietemin het Australiese lugrederye gesê hulle het geen planne om hierdie paadjie te volg nie.
“Qantas het tans geen planne om ekstra kostes in te stel nie en daar is nie ‘n beleid in plek vir oorgewig klante nie,” het ‘n woordvoerder van die lugredery gesê.
Virgin het die idee ook verwerp.
“So ‘n besluit word nie by ons lugredery oorweeg nie,” het ‘n woordvoerder aan verslaggewers gesê, terwyl Tiger Airways ook gesê het hy sal dit nie oorweeg nie.
Die konsep van gewig-belasting word al verskeie jare bespreek en sommige lugrederye vereis dat ‘n passasier ‘n tweede kaartjie koop as die persoon nie tussen beide armlenings kan inpas nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP