Geen meer oggendkoerant by hotelle?
2011-08-19 20:09
VSA – Die oggendkoerant wat baie hotelle soggens buite gaste se hotelkamers geplaas het is besig om iets van die verlede te word.
Met reisigers wat toenemend meer gebruik maak van selfone en skootrekenaars om op hoogte te bly met wat in die wêreld aangaan, word koerante nou meer gereeld opsygestoot.
Vir hotelle, veral dié wat finansieel in ‘n pekel is, is dit ‘n welkome besparing van kostes en die bonus is dat dit hulle meer omgewingsvriendelik laat voorkom.
Marriott-hotelle in die VSA het in die verlede elke gas op weeksdae van ‘n gratis oggendkoerant voorsien, of hulle daarvoor gevra het of nie.
Die hotelgroep verskaf nou 13 miljoen minderkoerante per jaar as wat hy twee jaar gelede gedoen het. Daar word nou slegs koerante aan gaste verskaf indien hulle dit versoek.
Marriott het beraam dat ‘n koerant sowat 227 gram koolstof-uitlatings afgee, so met die nuwe beleid hou die hotelgroep sowat 10 350 ton koolstof jaarliks uit die atmosfeer.
Aan die ander kant ly koerante onder die nuwe beleide en volgens Forbes bestaan meer as die helfte van USA Today se 1,78 miljoen daaglikse koerante wat gesirkuleer word uit kopieë wat aan hotelle verskaf word.
– Lees meer by BBC
– Volg Nuus24 op Twitter