Neem só goeie foto’s in sonlig
2011-09-06 09:12
Alet Pretorius, ’n Foto24-fotograaf, sê:
Fotografie beteken om met lig te verf. Min of swak lig bemoeilik fotografie, maar om in helder sonlig goeie foto’s te neem, is weer ’n uitdaging op sy eie.
Die ideale lig vir fotografie is die sagte lig net ná sonsopkoms en net vóór sonsondergang, wat die meeste onderwerpe goed laat vertoon. Helder sonlig is ’n harde lig en kan onderwerpe strak en ongenaakbaar laat lyk. Die kontras tussen die ligte dele en die donker dele kan baie groot wees. Dit veroorsaak ongewenste skaduwees, veral op mense se gesig.
Kleure kan ook uitgewas (desaturated) lyk. Jy kan egter dié eienskappe gebruik en baie dramatiese foto’s neem.
Gebruik eerstens ’n laer ISO. As jy diepblou lug op jou foto wil hê, moet jy jou kameralesing verstel om die liglesing te gebruik vir dié lug. Dit sal veroorsaak dat die res van die toneel effens onderbelig is, maar onthou dat jy nie die uitgeblaasde ligte dele kan terugkry nie.
Gebruik die kamera se flits om in helder lig skaduwees uit te skakel wat deur oogbanke, neuse en wangbene veroorsaak word.
Reflektors werk ook goed om lig op jou onderwerp te weerkaats.
As jy met jou rug na die son skiet, is jou onderwerp gewoonlik mooi belig, maar dit veroorsaak weer dat mense op jou foto met vreemde skrefiesoë in die son inkyk.
Sonweerkaatsings (sun flares) is nie ideaal nie, maar kan gebruik word om atmosfeer aan ’n foto te gee. ’n Polariseer-filter is ook handig as jy in helder sonlig skiet.
Gebruik die helder sonlig om interessante silhoeëtte te skiet. Stel jou beligting vir die helder agtergrond en jou onderwerp behoort ’n pikswart vorm te wees.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld