Forum wil sáám praat oor veiliger Tafelberg
2011-07-01 07:14
Kaapstad - Ondanks twee aanvalle vandeesweek was Donderdag se Tafelberg Veiligheidsforum-vergadering glo nié bedoel as ’n krisisvergadering nie.
Vier mense is Maandag in twee afsonderlike voorvalle beroof, in onderskeidelik die Nuweland-woud en naby die Rhodes-gedenkteken.
Twee ander beweerde voorvalle die week waartydens drie mense op Leeukop aangeval is, kon nie gister deur die polisie of Sanparke bevestig word nie.
Mark Truss, voorsitter van die veiligheidsforum, het gesê die vergadering is nie net in reaksie op hierdie voorvalle gereël nie, maar sodat alle belanghebbendes weer hul samewerking kon bevestig en versterk.
“Daar is baie wankommunikasie en verwarring oor sekere misdaadvoorvalle, dus het die vergadering deels daaroor gegaan dat ons duidelik wou kommunikeer.”
Die forum is in Februarie gestig onder die provinsiale departement van gemeenskapsveiligheid, en is gister deur mnr. Dan Plato, minister van dié departement, byeengeroep.
Volgens André van Schalkwyk, woordvoerder van die Table Mountain Safety Action Group, is kommunikasie in dié stadium beslis ’n swak punt in die forum se strategieë.
“Mense moet verstaan die forum is nog nie lank op die been nie, en ons is nog besig om gekombineerde strategië saam te stel,” het hy gister gesê.
“Maar terselfdertyd dink ek ons kan beter met mekaar kommunikeer. Mense hoor nie gou genoeg van voorvalle op die berg nie. Soms hoor ons dae nadat dit gebeur het eers daarvan, terwyl ons op die dag dalk ander stappers in die omgewing kon gewaarsku het.
“Ons (die burgerlike organisasies wat deel is van die forum) het baie oë en ore op die berg. Ons wil graag saam met die owerhede werk en ’n soort buurtwag vir Tafelberg wees.”
Sanparke het bekend gemaak 25 nuwe veldwagters begin vandag in die Tafelberg Nasionale Park (TNP) werk.
Volgens Merle Collins, TNP-woordvoerder, is die groep van 25 bykomend tot die 14 permanente veldwagters en 12 besoekersveiligheid-beamptes wat tans die park help patrolleer.
Op 1 Augustus begin nog vier veldwagters en die honde-eenheid wat die veldwagter bystaan, het reeds van vyf tot agt lede gegroei.
Sanparke het vroeër vanjaar sy planne bekend gemaak om meer as 100 sekerheidbeamptes in die TNP te ontplooi. Van dié beamptes sal ook met pistole gewapen wees.
Die honde-eenheid sal ook uiteindelik tien diere in diens hê.
Volgens Collins het die TNP vanjaar reeds 30 verdagtes op die berg aangekeer, en meer as 40 bergreddings is suksesvol afgehandel.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger