En die wêreld se swakste lughawe is...
2011-10-20 11:12
Manila – Die Filippynse regering het Woensdag onderneem om die land se hoof-lughawe te verbeter nadat dit benoem is as die wêreld se swakste lughawe.
Dit volg ná klagtes oor werknemers wat steel, vuil toilette en ‘n dak wat inmekaarsak.
Die Ninoy Aquino Internasionale Lughawe se Terminaal 1 het hierdie titel gekry ná lesers van die aanlyn reisgids www.sleepinginairports.net van hul ervarings vertel het.
Die land se sekretaris-generaal van vervoer, Manuel Roxas, het in reaksie op die benoeming gesê die regering sal harder werk om die 30 jaar oue fasiliteit te verbeter.
“Die kliënt is altyd reg. Dit sal vir ons ‘n uitdaging wees om dit wat ons moet doen vinniger en beter te doen,” het Roxas gesê.
“Daar is reeds planne en ons is klaar besig, maar dit is duidelik nie genoeg nie en ons sal meer moet doen.”
Nietemin meen hy daar is ook net soveel mooimaak-werk wat gedoen kan word aan die ou terminaal.
Passasiers het glo op die webwerf gekla oor selfone en juweliersware wat gesteel word by sekuriteitspunte.
Daar word ook beweer dat winkels waterbottels verkoop waarmee gepeuter is en dat passasiers tevrede moet wees met vuil toilette.
In Mei het ‘n gedeelte van die terminaal se dak ook inmekaargesak.
– Volg Nuus24 op Twitter