Egskeiding-hotel vir Nederlanders
2011-08-11 18:17
Amsterdam – “’n Huwelik kan baie vinnig verby wees,” het Brigitte Bardot eenkeer gesê, “dit is die egskeiding wat jou tyd steel.”
Maar die man wat die “egskeiding-hotel” in Nederland oopgemaak het, meen dit hoef nie die geval te wees nie.
Jim Halfens, 32, het verlede jaar ‘n hotel geopen wat naweek-pakkette bied vir paartjies wie se huwelik op die rotse is.
Tot dusver het 10 paartjies van die aanbod gebruik gemaak en volgens Halfens is belangstelling besig om te groei.
“Ons skep die geleentheid om nie net ‘n egskeiding wettiglik reg af te handel nie, maar om dit vinnig ook te doen, sonder om tyd by die werk af te neem en op ‘n waardige manier,” het Halfens gesê.
“Sommige mense sal wil terugkeer.”
Net vir ingeval die eks-paartjie die ooreenkoms met ‘n glasie wil beklink, het Halfens ook sjampanje op ys.
Dit is die personeel wat die hotel spesiaal maak: ‘n notaris publiek, ‘n prokureur vir elk van die partye en ‘n sielkundige is beskikbaar om die proses so glad as moontlik te laat loop.
‘n Eiendomsagent se dienste kan ook ingeroep word om met enige eiendomskwessies te help.
Indien nodig kan die hotel ook kindersorg bied.
Die hele pakket kos $3 500 (R25 000) insluitende akkommodasie en regskostes vir die egskeiding.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa-DPA