Egiptiese visums steeds op aankoms uitgereik
2011-09-12 11:04
Kaïro – Egipte het Sondag gesê dat ‘n voorgestelde vereiste, dat toeriste voor hul aankoms in die land vir visums moet aansoek doen, geskrap is en dat visums steeds met hul aankoms uitgereik sal word.
Die minister van toerisme, Munir Fakhri Abdel Nur, het gesê die voorstel, wat Vrydag aangekondig is, is “gekanselleer” aangesien dit ‘n negatiewe impak sal hê op toerisme-inkomste – ‘n groot bron van inkomste vir Egipte.
“So ‘n besluit sal ernstige negatiewe gevolge op toerisme in Egipte hê,” het hy gesê.
“Geen besluit is geneem nie, dit was slegs ‘n voorstel,” het hy oor die voorstel gesê.
Mahmud Higazi, ‘n woordvoerder vir die regering, het Vrydag aan AFP gesê dat ‘n nuwe visumvereiste voorgestel is, want “ons wil toegang reguleer”.
Toeriste van baie lande, veral Westerse lande wie se burgers ‘n groot bydrae lewer tot Egipte se toerisme-inkomste, kon visums met hul aankoms in die land bekom.
Toerisme na Egipte se strandoorde en geskiedkundige toeriste-aantreklikhede is ‘n sleutelfaktor vir buitelandse valuta, maar dit het aansienlik afgeneem ná die opstande wat die land in Januarie en Februarie geruk het.
Suid-Afrikaners sal steeds moet aansoek doen vir hul visum voordat hulle na Egipte reis, maar hoef nie die aansoekfooi te betaal nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP