Dwergolifant deurboor Australiese toeris
2011-12-08 11:48
Kuala Lumpur – ‘n Dwergolifant het ‘n Australiese toeris in ‘n afgeleë Maleisiese wildreservaat op Borneo-eiland deurboor, het ‘n amptenaar Donderdag gesê.
Jenna O'Grady Donley het Woensdag aan haar beserings beswyk.
Die aanval het by die Tabin-wildreservaat plaasgevind en was die eerste dodelike aanval van sy soort in Maleisië se oostelike Sabah-staat, het Laurentius Ambu, die direkteur van die staat se departement van wildlewe, gesê.
Die wilde olifant het alleen om ‘n moddervulkaan beweeg toe Donley, ‘n vriend en hul Maleisiese gids hom gesien het terwyl hulle naby hul oord gestap het, het Ambu aan The Assosiated Press gesê.
Die 25-jarige Donley, wat ‘n veearts is, was glo 10 m van die dier af. Daar word vermoed dat die olifant op haar afgestorm het omdat hy geskrik het vir die onbekende mense, het Ambu gesê.
Bewaarders by die park het nie die olifant gesien nie, maar beplan om hom terug in die woud in te stuur, het Ambu bygevoeg.
Borneo se dwergolifante is 'n bedreigde spesie, met slegs sowat 2 000 wat in die Sabah-staat oor is.
Die olifant wat Donley aangeval het, was glo sowat 2 m in hoogte.
Australië se departement van buitelandse sake en handel sê die slagoffer is van Nieu-Suid-Wallis.
– Volg Nuus24 op Twitter