Duitse hotel lyk, ruik en voel soos kos
2010-11-25 15:55
Kaapstad - Diegene wat in die middernagtelike ure oorval word van die honger, en graag kombuis toe wil sluip, sal behoorlik tuis voel in die Food Hotel te Neuwied, Duitsland.
Hierdie hotel het meubels wat soos blikkies lyk, stoele wat van bierkratte gemaak is en koekie-vormige kussings.
Daar waar jy kyk, daar sal jy iets sien wat met kos verband hou.
Die hotel het 36 van Duitsland se grootste handelsmerke, soos die voedselvervaardiger Dr. Oetker, die aartappelskyfies Chio, sjokolade-maker Ferrero en die Veltins-brouery aan boord gekry om te help met ontwerp.
"Ons het maatskappye gekry om elke kamer te borg," aldus die hotelbestuurder Peter Gruenhaeuser. "Ons het hulle die basiese riglyne gegee vir die kamers, maar hulle ook die vryheid gebied om hul eie produkidees en korporatiewe beelde in te span en uit te stel."
Die maatskappye moes dan betaal vir die meubels en ander versierings.
'n Enkelkamer in die hotel kos sowat R1 000 per nag terwyl 'n dubbelkamer omtrent R1 400 kos.
- Reuters