Duisende tasse op lughawens gesteel
2011-10-08 08:01
Kaapstad - Veertien tasse word elke dag by die O.R. Tambo-lughawe in Johannesburg gesteel.
S’bu Ndebele, minister van vervoer, het gesê dié syfer is heelwat beter as dié van drie jaar gelede toe dit 36 tasse per dag was.
Ndebele het dié inligting bekend gemaak in antwoord op ’n vraag wat in die parlement aan hom gestel is.
Verlede jaar het 5 806 stukke bagasie by die land se drie grootste lughawens – O.R. Tambo, die Koning Shaka Internasionale Lughawe in Durban en die Kaapstadse Internasionale Lughawe – weggeraak.
“In 2009 het 6 179 stukke bagasie by die land se drie grootste lughawens weggeraak. In daardie jaar is 12,4 miljoen stukke bagasie deur dié lughawens gehanteer. Dit beteken slegs 5% van die tasse wat in 2009 gehanteer is, het verdwyn.”
Die syfer het teen einde Julie vanjaar tot 4,4% gedaal.
Siza Mzimela, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), het vroeër vanjaar gal gebraak omdat bagasiediefstal by lughawens na haar mening “buite beheer” was.
Dileseng Koetle, SAL-woordvoerder, het gesê die lugdiens werk hard saam met die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa) en ander rolspelers om diefstal so ver moontlik te bekamp.
“Volgens ons syfers is bagasiediefstal by O.R. Tambo steeds dubbeld die gemiddelde by ander internasionale lughawens. Ons glo en hoop egter die situasie is aan die verbeter,” het sy gesê.
Chris Hlebela, bestuurder van O.R. Tambo, het gesê daar is altyd ’n menslike element by die hantering van bagasie betrokke.
“Meganiese en elektroniese toerusting kan net tot op ’n punt die werk doen; iewers moet mensehande die bagasie hanteer voordat dit in die vliegtuie gelaai word.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger