Diefstal by OR Tambo 'buite beheer'
2011-08-17 10:03
Johannesburg – Diefstal van bagasie by die OR Tambo Internasionale Lughawe in Johannesburg is “buite beheer” en gevolglik verkies reisigers om van ander lugrederye eerder as SAA gebruik te maak, het Siza Mzimela, uitvoerende hoof van SAA, gesê.
Diefstal by ander lughawens in Suid-Afrika is ook “baie hoog”, het Mzimela aan lede van die parlementêre komitee oor toerisme gesê.
Die komitee kon nie verstaan hoe die probleem steeds voortgaan nie, aangesien daar ‘n groot belegging gemaak is in toerusting vir die hantering van bagasie.
Volgens ‘n berig in die Business Day Woensdag, het Mzimela aan die komitee gesê dat die lugredery meer skade aan hul reputasie ly as ander lugrederye as gevolg van bagasie-diefstal by die OR Tambo Lughawe, aangesien so baie van sy kapasiteit daar gefokus is.
Dileseng Koetle, waarnemende hoof van korporatiewe sake van SAA, meen dat diefstal by OR Tambo 0,6 per 1 000 is – dubbel die gemiddeld van 0,3 by ander lughawens in die wêreld.
Mzimela het bygevoeg dat die probleem as ‘n geheel opgelos moet word, eerder as wat almal wat betrokke is, insluitende die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa), vingers na mekaar wys.
Solomon Makgale, woordvoerder vir Acsa, het gesê die maatskappy werk hard daaraan om diefstal, wat oor die afgelope drie jaar geleidelik afgeneem het, aan bande te lê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA