Dief kruip in tas weg om uit bagasie te steel
2011-06-08 14:57
Barcelona – ‘n Vermeende dief het in ‘n groot tas weggekruip en terwyl hy in die bagasie-stoorplek van van ‘n Spaanse lughawe-bus was, het hy uitgeglip om waardevolle items uit ander tasse te steel, het die polisie gesê.
Die dief het ‘n makker gehad wat ‘n buskaartjie sou koop en die tas in ‘n bus van Girona-lughawe na Barcelona sou plaas, het die polisie Dinsdagaand in ‘n verklaring gesê.
“Sodra die bus op pad is, was die plan dat hy uit die tas klim, vir waardevolle items soek en dit in ‘n kleiner sak wat hy saam met hom gehad het wegsteek,” het die polisie vertel.
Die dief sou dan gevolglik terugklim in die tas en aan die einde van die 90-minuut busrit deur sy vennoot opgelaai word.
Die polisie is ingelig oor die herhaalde voorvalle van diefstal en het gevolglik op 3 Junie ‘n verdagte tas deursoek. Toe hulle dit oopmaak het hulle ‘n man gevind wat dubbel gevou in die tas lê.
Die man was in besit van ‘n selfoon, ‘n kleiner sak en ‘n skerp voorwerp om ritssluiters en slotte mee oop te maak, het die polisie gesê.
Beamptes het die dief se vriend op die bus vasgetrek.
Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP