Dié staproete neem 5 maande om te voltooi
2011-10-07 11:09
Nepal – Dié land het amptelik die Great Himalayan Trail, een van die langste en hoogste staproetes in die wêreld, geopen, het die toerismeraad die afgelope week bekendgemaak.
Die moeisame roete oor Nepal se Himalajas strek van Taplejung, in die skadu van die wêreld se derde hoogste piek, Berg Kanchenjunga, na Humla op die grens met Tibet.
“Hierdie is ‘n hele nuwe produk en ons hoop dat dit sal help om ons toerismebedryf ‘n hupstootjie te gee,” het Sharad Pradhan, ‘n woordvoerder vir die Nepalese toerismeraad, gesê.
“Dit sal ook help om Nepal se reputasie as die beste bestemming vir avontuurlustiges te verbeter. Avontuur-toerisme as ‘n mark op sy eie is nuut vir ons, maar dit is definitief ‘n aantreklike pakket,” het hy gesê.
Avonturiers wat die staptog van 1 700 km voltooi sal ‘n groot verskeidenheid kulture op die pad teëkom.
Dit sal ervare stappers sowat vyf maande neem om die roete te voltooi, hoewel dit ook opgebreek kan word in kleiner dele.
Duisende stappers en bergklimmers reis jaarliks na Nepal. Agt van die wêreld se 14 pieke wat hoër as 8 000 meter is, is in Nepal, insluitende die wêreld se hoogste, Everest, wat 8 848 meter hoog is.
Die Annapurna Circuit, Nepal se gewildste roete, is ‘n roete van 300 km, wat drie weke lank neem om te voltooi en wat hoogtes van tot 5 416 meter bereik en deur twee rivier-valleie strek.
– Volg Nuus24 op Twitter