Die bier vloei vryelik by Oktoberfest
2011-09-19 12:29
Kaapstad – München se tradisionele bierfees het afgeskop te midde streng sekuriteit en die prys van bier wat tot ‘n rekord-hoë prys gestyg het.
Met die tradisionele uitroep van "O' zapft is!" het die burgemeester, Christian Ude, om 12:00 Saterdag glase geklink met die Beierse premier Horst Seehofer om die begin van die 178ste Oktoberfest te herdenk.
Ten spyte van die ekonomiese klimaat sal sowat ses miljoen plaaslike en buitelandse besoekers na verwagting die fees bywoon.
Dié bierfees word gesien as die grootste, gewildste viering in die wêreld en sowat sewe miljoen liter bier sal in die volgende drie weke gedrink word.
Lang rye het al vroeg op die openingsdag gevorm, ten spyte van die hoë prys van €9.20 (ongeveer R94) per liter en klagtes dat byna ‘n kwart daarvan uitgemors is teen die tyd wat dit die tafel bereik.
Rokers is ook gewaarsku dat hulle hierdie jaar beboet kan word, met rook wat in die 14 biersale verbode sal wees.
Streng sekuriteitsmaatreëls sal ook in plek wees by die fees, wat gesien word as ‘n moontlike teiken vir aanvalle. Sowat 500 polisiebeamptes sal aan diens wees en 200 sementblokke is opgerig om die biersale te beskerm.
Die Oktoberfest dateer terug na die troue van koning Ludwig I van Beiers op 12 Oktober 1810.
Die fees word nou vroeër gehou, in September, aangesien die weer dan beter is.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP