Die Vrystaat, ’n tent en ’n motorfiets
2009-11-05 09:27
Helenus Kruger het in ’n nat Oos-Vrystaat na motorfietstoere terugverlang.
Eenmaal ’n motorfietsryer, altyd ’n motorfietsryer.
Dit is dié ou waarheid waaraan ek dink terwyl ek die BMW 1200 GS oor die Vrystaatse vlaktes stuur, gelaai met ons kampgoed en my ou beste as passasier.
Die horison is dynserig en donkergrys wolke hang swaar bo ons. Voor ons, in Senekal se rigting, wag die reën.
Ek sou nooit kon dink hoe ons die motorfietstoere sou mis toe ek my geliefde GS sowat ’n jaar gelede verkoop het nie.
Toe BMW Motorrad ons dus onlangs ’n GS vir ’n naweek aanbied, kon selfs ’n voorspelling van 80% kans op reën nie ons opgewondenheid demp nie.
In Petrus Steyn en Lindley word ons aangenaam verras met hoe skoon die twee dorpies is, iets wat jy nie aldag meer in die platteland sien nie.
Teen die tyd dat ons by Rosendal se Ou Handelshuis en Koffiestoep intrek, sous dit behoorlik. Die eienaar en akteur Chris van Niekerk ontvang ons hartlik en ons is dankbaar om van die druppende reënoorpakke ontslae te raak.
Rosendal is ’n pragtige dorpie waar jy behoorlik jou batterye kan herlaai. In dié rustigheid sal ons nog graag ’n naweek lank wil kom niks doen.
Ongelukkig kortwiek die reën ons Rosendal-rondloopplanne en ná ’n kort middagete en draai deur ’n kunsgalery vat ons die pad Clarens toe.
Dit het opgehou reën en hier en daar is die pad al droog – ek kan die GS lekker rondgooi deur die Oos-Vrystaatse draaie.
In Clarens maak ons kamp by die Clarens Inn & Backpackers.
Toe ons deur die pragtige Golden Gate- Nasionale Park terugry, dwaal my gedagtes en ek wonder of die gawe mense by BMW Motorrad kwaad sou wees as ek nie hul GS terugbring nie!
Clarens Inn & Backpackers
Die Clarens Inn & Backpackers bied reisigers ’n uitstekende, goedkoper blyplek-alternatief in Clarens. Dit is ideaal vir motorfietsryers en kampeerders wat lig reis en kamp sonder alles wat oop- en toemaak.
Dit is ’n backpackers in die ware sin van die woord. In die voortuin is ’n versameling ou padtekens, beelde en ’n blombedding in ’n ou pootjiesbad.
Daar is ’n volledig toegeruste kombuis, onderdak-eetplek met ’n braai-area en gemeenskaplike ablusiegeriewe.
Privaatheid in die ablusies kan wel vir sommige mense ’n probleem wees, want die toilethokkies is sonder deure, toegemaak met gordyne.
Blyplek bestaan uit twee- en sesbedkamers, asook twee agttienbed-slaapsale. Tariewe is van R100 tot R150 per persoon.
Kampplek is beperk met slegs plek vir kleiner tente en sleepwaens. Die koste is R50 per persoon.
Vir besprekings, kontak Mountain Odyssey by 058 256 1173 of gaan na www.infoclarens.com.
Dinge om te doen
Petrus Steyn
Stop by die 506-koffiewinkel in Petrus Steyn. Die koffiewinkel was ongelukkig toe op ’n Sondagoggend, maar die mooi dekor en rakke vol tuisgebak het aanloklik gelyk. Die badkamers was die skoonste wat ons nog by ’n vulstasie teëgekom het.
Rosendal
Die Ou Handelshuis en Koffiestoep het buiten te ete en te drinke ook ’n verskeidenheid antiekware, van blik-
bekers tot ou gietysterstowe.
Besoek die Meerkatkolonie, waar kunswerke van Michèle Nigrini en Dahla Hulme te sien is.
Bewonder die ou sandsteengeboue van die dorp Clarens.
Eet ontbyt by die kindervriendelike Valley Cats-koffiewinkel, wat kinderboeke en ’n kringetjie-en-kruisie-bordspel op elke tafel het.
Clarens het ’n magdom kunsgalerye, winkels en restaurante vir elke smaak.
Besoek Golden Gate, sowat 17 km van Clarens, waar jy ook kan kamp of gaan stap, fietsry en ’n 4x4-roete kan ry. Kontak Sanparke by www.sanparks. org.
Wenke
Die webwerf http://freemeteo.com bied akkurate weerinligting oor klein dorpies.
Daar is geen alternatief vir goeie toerusting nie. Nie net het ons motorfietsryklere ons teen die elemente beskerm en droog gehou nie, maar ons kon ook rustig slaap danksy ’n waterdigte en stormbestande tent.
Waarmee het ons gery?
Die BMW 1200 GS het ’n kragtige 1200 cc-masjien wat met gemak ’n passasier en kamptoerusting kan dra. Veiligheids- en geriefskenmerke sluit in ABS-remme, ESA (elektroniese-suspensie-verstelling) en verhitte handvatsels. L
es bes, die fiets is net so tuis op ’n grondpad as op teer.
Besoek BMW Motorrad se webwerf by www.bmwmotorrad.co.za
Mikrovesel-handdoeke
Nat handdoeke terwyl jy kamp is altyd ’n probleem.
’n Katoenhanddoek neem lank om droog te word en ruik vinnig bedompig as dit nie behoorlik droog word nie.
Die oplossing? Kry vir jou ’n mikrovesel-handdoek.
Ek was aanvanklik skepties oor die klein handdoekie wat eerder soos ’n groot vadoek lyk. Hoe is dit moontlik dat dié klein stukkie lap jou droog kry en dan nog boonop vinnig droog word?
Maar ná ’n paar keer se gebruik moet ek erken die klein handdoekie het my verras. Net soos die verpakking beloof, was dit super-absorberend en het vinnig droog geword.
Boonop is die handdoek lig en vou klein op, wat dit ideaal vir kampeer maak.
Mikrovesel-handdoeke is beskikbaar by buitelewewinkels en kom in verskeie groottes met pryse vanaf sowat R99.