Cosatu: W-Kaap toerisme in krisis
2011-07-22 15:30
Kaapstad – Die vakverbond Cosatu het Vrydag ‘n dringende beroep op owerhede gedoen om wat hy as ‘n krisis in veral die Wes-Kaapse
toerismebedryf beskryf het, aan te spreek.
“Cosatu glo ‘n ondersoek na regulering om die langtermyn
belange van die industrie te beskerm, moet ingestel word,” het Tony Ehrenreich,
die federasie se provinsiale sekretaris in die Wes-Kaap, gesê.
“Die oorsaak van die krisis lê daarin dat pryse vir internasionale
toeriste te hoog gestel word,” het hy gesê.
Die buitensporige pryse van wyn en kreef het glo daartoe
bygedra dat besoekers gevoel het hulle word ingedoen.
“Die allerbelangrike gewoonte van mense om ‘n toeristebestemming
vir mekaar aan te beveel, ondersteun dus nie die Suid-Afrikaanse industrie nie.”
Die vakverbond het ook die uitsluiting van werkers uit die toerismeraad as ‘n
probleem genoem en het daarop aangedring dat werkers ‘n direkte
verteenwoordiging op dié raad kry voor enige fondse aan die industrie
beskikbaar gemaak word.
“Ons sal verder versoek dat ‘n onafhanklike liggaam op die
been gebring word om die krisis te ondersoek aangesien die rolspelers in die
industrie kop in een mus met die plaaslike regering is.”
Dié onderhandse samewerking is gedemonstreer deur die Kaapse
stadsraad “wat R40 miljoen aan die toerisme-industrie gegee het om op hulself
uit te gee”, het Ehrenreich gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA