China se Groot Muur deur myne bedreig
2011-10-21 13:20
Laiyuan, China – Die Groot Muur van China word bedreig deur wettige en onwettige myne wat groot stukke grond uit die heuwels onder die muur ruk, het bewaringsgesindes gewaarsku.
Die muur, wat 6 400 km lank is, kronkel deur 11 Chinese provinsies en lok jaarliks miljoene toeriste, meestal na opgeknapte dele naby die hoofstad Beijing.
Waar toeriste nie uitkom nie is dele van die muur egter besig om inmekaar te sak.
Sowat 200 km suidwes van Beijing in Laiyuan in die Hebel-provinsie is tientalle klein myne besig om die stabiliteit van die eeue ou muur te bedreig.
Prospektors gaan soontoe op soek na onder andere koper, yster en nikkel en sommige van die myne is tot 100 meter van die muur uitgekap, het die Xinhua-nuusagentskap berig.
Nietemin, met baie van hierdie myne wat wettige permitte het, is daar niks wat bewaringsgesindes kan doen nie, het Dong Yaohui, ondervoorsitter van die Great Wall Society, gesê.
“Die ontginning van die minerale hulpbronne val onder die wetgewing van die hulpbronneburo, so hulle reik die permitte aan die mynmaatskappye uit. Hulle kan dus wettiglik die minerale hulpbronne in die omgewing wat binne die kontrak uiteengesit word ontgin,” het Dong gesê.
“Maar in hierdie proses neem die hulpbronneburo nie die Groot Muur as ‘n faktor in ag nie en vra ook nie die opinie van die departement van kulturele erfenis nie. Daar is geen reël dat daar gesprekke moet wees nie, so dit skep die gemors in die organisasie.”
Die Laiyuan-hulpbronneburo blameer die vernietiging op klein, onwettige myne.
Die departement van kulturele erfenis word elke jaar fondse gegee om beskadigde dele van die muur te herstel, maar Dong sê hulle kan nie voorkom dat die skade plaasvind nie.
Dit is ook nie die eerste keer wat die muur in die gedrang kom nie.
Bomaanvalle in die Sino-Japannese oorlog tussen 1937-1945 het groot dele van die muur vernietig en inwoners in omliggende dorpe het bakstene gesteel om paaie en huise in die 1050’s en 1960’s te bou.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Reuters