Chapmanspiek-pad gaan nou net een tolhek hê
2011-03-09 07:21
Kaapstad - Chapmanspiek-pad gaan net een tolhek by die Houtbaai-ingang kry, en nié meer een aan weerskante van dié wêreldbekende roete nie.
Dié besluit is Dinsdag aangekondig nadat die Wes-Kaapse departement van vervoer en openbare werke en Entilini Concession ’n hersiene kontrak onderteken het vir die bedryf van die tolpad.
Die enkeltolhek-stelsel kan veroorsaak dat padgebruikers van die Noordhoek-ingang af deur die Chapmanspiek-tolpad ry, omdraai en dan sonder enige betaling weer terugry.
Luidens ’n verklaring van die provinsiale ministerie van vervoer en openbare werke weeg dié klein bedrag geld wat verlore kan gaan nie op teen die hoë uitgawes om ’n tweede tolhek op te rig nie. ’n Tweede tolhek sal duur uitgrawings aan die berg vereis.
’n Regsgeding het ook die provinsiale regering in die gesig gestaar indien die bouwerk aan die Noordhoek-tolhek sou voortgaan.
Die nuwe kontrak vir die bestuur van die tolpad geld ’n jaar. Die provinsiale regering dra R25 miljoen by tot die bou van die tolhek.
Entilini sal R11,6 miljoen bydra, asook ’n verdere R13 miljoen wat hy verskuldig is aan boetes en aanpassings aan vorige rekenings wat hy van die Wes-Kaapse regering gekry het.
Robin Carlisle, Wes-Kaapse minister van vervoer en openbare werke, het gesê die kontrak is heroorweeg omdat die vorige kontrak met Entilini baie duur uitgewerk het.
“Die provinsiale regering sal hiermee byna al die geld terugkry wat hy aan die Entilini-kontrak bestee.”
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger