Carolus: SAA moet groter dink
2012-09-27 12:52
Johannesburg – Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAA) moet groter dink om sy potensiaal te kan bereik, het die voorsitter Cheryl Carolus Woensdag gesê.
“Ons kort ‘n dapperder visie, waar ons nie hoef verskoning te vra nie. Ons moet positief wees en die spasie opneem wat ons glo vir ons gemaak is,” het Carolus in ‘n onderhoud gesê
Carolus was vol vertroue dat die regering saam sou stem met die lugredery se herkapitalisering, wat sowat tussen R4 miljard en R6 miljard sal beloop. Carolus het erken dat dit ‘n groot bedrag geld is in ‘n moeilike ekonomiese klimaat.
Dit sal egter beteken dat die lugredery sy balansstaat sal kan versterk en sodoende nuwe vliegtuie bestel.
“Dis ‘n moeilike stryd en dit moet so wees. Ek verwag dat minister Gordhan ‘n moeilike onderhandelaar gaan wees.”
‘n Ooreenkoms word binne die volgende paar weke verwag.
Carolus het bygevoeg dat die lugredery toenemende groei onder die nuwe uitvoerende hoof, Siza Mzimela, toon.
Tog was die lugredery se brandstof rekening vir die 2012 finansiële jaar R2,2 miljard hoër as die vorige jaar.
Arbeidsverhoudinge het ook drasties verbeter, met uitvoerendes wat bonusse en salarisverhogings eers laat uitstel terwyl vlieëniers ingestem het om hul salaris met slegs 1,5% te verhoog, ten spyte daarvan dat hulle geregtig is op ‘n 11% verhoging.
Suid-Afrika se ligging was eens gereken as ‘n nadeel, maar is nou perfek posisioneer om met Brasilië, Rusland, Indië en China handel te dryf.
“Ons moet demonstreer dat hierdie markte groeiende markte is. Ons glo dat ons die eerstes moet wees om in hierdie markte te belê. Daar is voordele, maar daar is ook risiko's.”
SAA onderneem nou weekliks 10 vlugte na Sao Paolo om die toenemende handel met Brasilië te akkomodeer.
Een van die lugredery se groot nadele is dat sy ouer vliegtuie minder brandstofdoeltreffendheid bied en ten spyte van ‘n groot aanvraag kan hy net drie direkte vlugte na Beijing toe aanbied omdat net een vliegtuig die reis kan voltooi.
SAA word ook deur armer lande verbygesteek wat meer moderne vliegtuie het.
“Ons word ongelukkig verbygesteek deur lande wat ‘n kleiner bruto binnelandse produk as ons het,” het Carolus bygevoeg.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA