Buurlande werk saam om toerisme te bevorder
2009-10-14 03:15
Mpumalanga se toerisme-en-parke-agentskap (MTPA) het ’n vennootskapsooreenkoms gesluit met die nasionale toerisme-instituut van Mosambiek (Inatur) en die Swaziland-toerisme-owerheid (STA) om toerisme in die streek, oor landsgrense heen, ’n hupstoot te gee.
Die drie toerisme-owerhede gaan vandeesmaand ’n verstandhoudingsmemorandum onderteken.
“Nie net sal dit die toerismeverhouding tussen die drie partye versterk nie, dit sal ook aan plaaslike en buitelandse besoekers ’n klomp opwindende vakansiepakkette en -produkte bied, wat toerismehorisonne sal verbreed in die aanloop tot 2010 en daarná,” sê Charles Ndabeni, die uitvoerende hoof van die MTPA.
Sterker bande in die streek sal oorgrens-toerisme ’n werklikheid maak, fantastiese multi-bestemmingsgeleenthede vir plaaslike en internasionale toeriste bied en sterker handelsbande kweek.
“Deur saam te werk kan ons ’n baie aanlokliker bestemmingstatus bereik deur ons bemarkings- en produkontwikkelingshulpbronne saam te gooi,” sê Dramos Bernado, uitvoerende hoof van Inatur.
Eric Maseko, die uitvoerende hoof van die STA, voeg by verbeterde lugvervoer is een van die prioriteite vir die ontwikkeling van die streek en hulle werk aan ’n strategie om lugvervoer tussen die Krugerwildtuin, Mosambiek en Swaziland te verbeter.
Gesamentlike bemarking vir die streek en inisiatiewe vir die 2010 Wêreldbeker-sokkertoernooi is van die kwessies wat getakel gaan word.
Die memorandum gaan ook sterk fokus op vaardigheidsontwikkeling en ’n gesamentlike benadering tot bewaringsbestuur.
- Beeld