Bou van hotel in wildtuin word vertraag
2011-08-27 12:04
Die bouwerk aan die beoogde hotel in die Malelane-kamp, in die Krugerwildtuin, is met sowat ses maande vertraag.
Dít nadat die ontwikkelaar van sy span omgewingskonsultante ontslae geraak het.
Peter Wright, van die Malelane Safari Resort-konsortium (MSR) wat die ontwikkelaar is, het bevestig hy het Interdesign Landscape Architects (ILA) afgedank en stel binnekort ’n “nuwe, sterk span” omgewingskonsultante aan.
Wright het gesê die bouwerk is gevolglik met “sowat ’n maand” vertraag en sal waarskynlik nou eers in April volgende jaar begin. Beeld het vroeër berig Wright wou reeds in Oktober vanjaar met die bouwerk aan die luukse hotel in die Malelane-kamp begin het.
Gerhard Smit, sameroeper van Aikona!, die gemeenskapsorganisasie wat in die lewe geroep is om alle hotelontwikkelings in die Krugerwildtuin teen te staan, het by navraag gesê Wright en SANParke wil nou “’n sterker vuis” kry om die ontwikkeling deur te voer.
“Ons was nooit gekant teen ILA nie. Ons is gekant teen die hotelle en SANParke se kommersialisering van die wildtuin.”
Wright het gesê dié ontwikkeling trek baie aandag en dat die omgewingsimpakstudie met die grootste kundigheid en verantwoordelikheid uitgevoer moet word.
Claudia Coetzee, omgewingsbestuurder van ILA, het belanghebbendes gister per e-pos laat weet dat dié konsultante nie met die werk voortgaan nie. Sy kon geen redes verskaf waarom ILA in die pad gesteek is nie.
Wright het gesê al ILA se verslae sal net so deur die nuwe konsultante oorgeneem word. Beeld het verneem die departement van omgewingsake het ILA se vooromgewingsimpakverslag glo onlangs teruggestuur “met verskeie vrae” wat nog beantwoord moet word.
Wright het dit bevestig en gesê “dit gebeur gewoonlik dat die departement nog vrae het”. Díe vrae sal nou deur die “nuwe spesialiste” beantwoord word.
Aikona! en verskeie ander gemeenskapslede is ontevrede omdat SANParke reeds in Maart 2009 besluit het om die hotel te bou. Die kontrak is begin verlede jaar aan Wright toegeken en die burgerlike gemeenskap het “toevallig” in Desember verlede jaar daarvan uitgevind.
Smit en dr. Salmon Joubert, voormalige hoof van die wildtuin, meen SANParke is slegs die bewaarder van die wildtuin en dat hy nie “eensydig” ’n besluit kan neem om hotelle in die wildtuin te bou nie.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld