Bly só gratis op vakansie
2011-12-01 13:57
Kaapstad – Hotelle het dalk kamerdiens, deftige restaurante en wollerige kamerjasse, maar dit is soms net lekker om terug te sit in ‘n gemakstoel by die huis.
Dit is veral lekker as daardie huis op ‘n strand in Costa Rica is, of as dit ‘n paleis van ‘n huis in Kalifornië of ‘n lodge in die Kanadese wildernis is.
Sulke huise is gewoonlik net iets om van te droom, maar ‘n webwerf genaamd www.trustedhousesitters.com bied nou huise in 40 lande aan vir reisigers om in te bly.
Huisoppassers is al vir ‘n geruime tyd gewild in die VSA en Australië, so dit is nie ‘n verrassing dat al meer mense agterkom dat dit ‘n wonderlike manier is om die wêreld te sien nie.
Mense wat fantastiese huise besit hou nie daarvan om dit leeg te laat nie en dit is waar huisoppassers in die prentjie pas.
Eienaars is gewoonlik op soek na iemand wat ‘n ogie oor die eiendom kan hou en soms ook na hul troeteldiere kan omsien.
Die persoon bly dus gratis en kry die geleentheid om deel te wees van die plaaslike gemeenskap.
Die skrywer Andy Peck het die webwerf in Desember 2010 geskep nadat hy in ‘n villa in Galicia in die noorde van Spanje gebly het.
Hy het die behoefte raakgesien vir ‘n webwerf waar huiseienaars betroubare oppassers kan vind.
Hierdie tydelike inwoners moet eers deur die polisie ondersoek word en moet verwysings kan gee.
Hulle ontvang dan kennisgewings van huiseienaars in die lande waar hulle belang stel om 'n huis op te pas.
– Kliek hier om meer te lees.
– Volg Nuus24 op Twitter