'Beste restaurant in wêreld' sluit sy deure
2011-07-28 18:38
Barcelona – Die Spaanse restaurant elBulli, wat verskeie kere as die wêreld se beste aangewys is, sluit Saterdag ná meer as twee dekades sy deure.
Dié gewilde eetplek in die afgeleë dorpie Cala Montjoi, noord van Barcelona, sal in 2014 heropen word as ‘n nie-winsgewende "dinkskrumkombuis" waar nuwe kooktegnieke en geure ondersoek en ontwikkel sal word.
Die elBulli-stigting beplan om elke jaar tussen 20 en 50 beurse aan voornemende kokke te gee om ‘n jaar lank saam met die stigting se kenners te werk.
Die nuwe ElBulli se nuwe konsepte sal op die Internet bekendgemaak word.
“elBulli maak nie toe nie, maar word omskep in iets anders terwyl sy siel behoue bly,” het die hoofkok, Ferran Adria, gesê.
Adria is bekend daarvoor dat hy bestanddele met behulp van tegnologie ontleed om nuwe geure te ontwikkel.
Die 50-sitplek-restaurant het sowat twee miljoen versoeke vir sy sowat 8 000 jaarlikse tafelbesprekings gehad.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP