Beamptes waarsku oor naaktheid by Playboy-klub
2012-11-02 14:08
Moembaai – Indiese toerismebeamptes in Goa het Vrydag gewaarsku dat hulle 'n Playboy-klub sal sluit indien daar enige bewyse van "onwelvoeglikheid, vulgariteit of naaktheid" is.
Playboy se plaaslike franchisehouer, PB Lifestyle, het planne aangekondig om nog meer as 100 takke van dié klub in Indië te open, maar hul kelnerinne sal klere dra wat die konserwatiewe Indiese waardes respekteer.
"Die klub mag dalk die Playboy-handelsnaam hê, maar indien daar onwelvoeglikheid, vulgariteit of naaktheid gevind word, sal ons hulle toestemming onmiddellik terugtrek," het Nikhil Desai, Goa se direkteur van toerisme, gesê.
Desai het gesê hy is nie bewus van 'n formele aansoek vir 'n lisensie nie.
PB Lifestyle, wat die regte het vir Playboy-takke in Indië, beplan om binne die volgende 10 jaar klubs, hotelle, mode-kafees en winkels oor die land heen oop te maak en sal sowat twee miljard rupees (sowat R322 miljoen) in die projek belê.
Die maatskappy beplan meer beskeie uitrustings vir die kelnerinne, het Sanjay Gupta, hoof van PB Lifestyle, gesê.
Hy het ook benadruk dat geen naaktheid betrokke sal wees nie.
Die Playboy-tydskrif, sowel as ander volwasse tydskrifte, word weens onwelvoeglikheid nie in Indië toegelaat nie.
Die Bollywood-aktrise Sherlyn Chopra het vanjaar die eerste Indiese vrou geword wat naak vir Playboy poseer het.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA